Hier op Resthill, ‘n plek van warmte en sorg, het ‘n aantal katte hulself tuisgemaak tussen die inwoners en personeel. Hierdie katte is nie net diere nie; hulle is ‘n deel van die hart van die Resthill.
In Burkei, ‘n huis met ‘n warm hart, woon Junee en Muschi. (wat ook Skapie genoem word). Junee is ‘n ou klein fyn katjie wat lyk asof sy uit ‘n feeverhaal gestap het, met ‘n pragtige sagte persoonlikheid. Sy het ‘n spesiale band geknoop met Tannie Suzie, wat besluit het dat Junee haar sielsgenoot is.
Muschi, of te wel Skapie, is Junee se seuntjie en is ‘n swart en wit parmant van ‘n kat met ‘n snorretjie wat hom soos Hitler laat lyk, vol lewenslus en ondeundheid. Hy sien die wêreld as sy speelplaas, maar sy hart behoort ook aan Tannie Suzie. Soms sal hy vir die Prof met sy verteenwoordigheid vereer en op die Prof se bed gaan lê en maak of hy baie ernstig is om saam te lees. Dis egter van korte duur want die meneertjie ly beslis aan aandag-afleibaarheid en bly nie lank stil op een plek nie.
In Robusta het die katte hul eie storie. Cleo, die oude dame van Resthill, het die kombuis en sitkamer in Robusta haar koninkryk gemaak. Sy is die oudste kat op Resthill met ‘n rustige bestaan, ver weg van die gedruis van die wêreld. Sy glo wel sy is geregtig op alles en kom steel so nou en dan Gaia, die kantoor-kat, se kos.
Boss-cat, ‘n pragtige gemmerkat met ‘n trotse houding, regeer die onderste gedeelte van die huis. Hy is die bewaarder van die gang en het ‘n spesiale band met Gaia, die reisende kantoorkat. Hy behoort aan Natasha en versier haar bed met ‘n lang uitgerekte lyf.
Meraai, ‘n pragtige grys kat met ‘n sagmoedige geaardheid, het ‘n liefdevolle aanwesigheid in die huis. Sy het die inwoners van Robusta se harte gewen met haar sagsinnige maniere en speelsheid.
Gaia, die reisende kat, wat die kantoor met ‘n ysterhand regeer. Sy kom elke Woensdag tot Vrydag die kantoor besoek, neem haar plek in die tikpapierboks op die kantoortafel in vanwaar sy alles fyn dophou wat in die kantoor gebeur. Sy en Freddie speel in die aande saam en alles gaan goed totdat Freddie in haar kamer probeer kom, dan is sy parmantig met hom, blaas en wys naels sodat hy haar terrein moet verlaat.
Freddie, die kroonprins van Resthill, het sy koninkryk in die hoofhuis gevestig. Sy stem vul die kamers, hy is baie bekkig en gesels graag, sy pote loop oor die dakke van die Resthill huise en sy hele wese het die liefde van Esmarie en Alet gewen.
Die katte van Resthill is baie meer as net diere; hulle is die bewaarders van geluk, vertroosting, en vreugde. Hulle is die storievertellers van die plek, en hulle liefde, en ons liefde vir hulle, sal vir altyd voortleef op Resthill.
Uitstekend geskryf Aletta. Dit is met ongelooflike deernis. Dankie hiervoor.