DIS LENTE OP RESTHILL
Vir ‘n wyle het ons haar dopgehou, maar dit is soos die Ingelse se, “A waiting kettle never boils”. Sy het gesit. Elke dag het ek afgestap na haar hok maar sy het gesit. En toe een oggend, toe Voorman Gift die hok oopmaak om die hoenders uit te laat vir die dag, stap sy uit met sewe bondeltjies in tou. Dit was die mooiste wat ek nog gesien het, ses goudgeel kuikens en een pik swart enetjie. En toe weet ek, dit is Lente!
Ons kalkoenmamma het ook babas. Sy loop trots met die goedjies rond en ek verkyk my aan die eienaardige bondeltjies.
Mamma gans kom uit die hok gestap met twee opgeskote kuikens, een kleiner as die ander en dit waggel agter haar aan. Twee mannetjie-ganse loop om haar met nekke dreigend laag op die grond en blaas hees as jy naby kom. Een van die hoenderhane, die een wat dink hy is baas van die plaas, kom nuuskierig nader en amper, amper sien jy net vere waai. Mnr Haan rittereer en maak gat skoon.
Die ander ganse is bronstig en moedswillig luidrugtig. En moenie naby die wyfies waag nie, dit word geblaas en koppe laag op die grond getrek. Dreigend. Wees maar versigtig, hulle kan seer byt.
Die roosknoppe begin een na die ander bod. Die perske- en appelkoosbome is skielik oortrek met bloeisels. ‘n Versameling klein blommetjies begin een vir een hulle koppies uitsteek, reg om hulle kleure aan die wereld te wys, terwyl die tuinmanne nuwe bo-grond in die beddings en potte werk.
Die katte rek laaaank uit waar hulle op die vensterbanke gelê het. Die gebak in die son begin nou net te warm raak. Die honde begin ook koelte soek onder die bome wat stadig maar seker weer skadu gooi. Ons donkie is vrolik en gesels deesdae baie. Die varkies skoffel in die grasse en beddings vir daardie lekker uintjies en suur blaartjies.
In die eendedam druk Biemie (die potbelly pig) sy neus so diep in die modder dat hy met die opkomslag lyk of hy ‘n gesigmasker aan het. Hy sien egter ek is oppad kantoor toe en kom met sy moddergevreet en sopnat lyf reg op my af vir daai appel. Een van die ander varkies kom saam en maak ‘n vreeslike gemors van die kantoorstoep. Ek verlei hulle met die appels weg van die kantoor en daar stap hulle dood te vrede terug eendedam toe nadat die appels verorber is.
Die groentetuine lyk pragtig. Genoeg om te eet vir baie. Ons inwoners het ook sommer weer nuwe woema soos die warmer dae in hulle lede intrek en moet ons oppas of hulle huppel in die paadjies af.
Die wasgoedlyne lyk ook anders. Dit gaan nou minder gebuk onder komberse en truie. Minder sokkies en wintersonderklere. Die kleure is ook meer vrolik. Wintersgoete kan so vervelig vaal wees.
Oral om ons is die voëltjies doenig. Meer geluide van die kiewiete word gehoor en die klein swerms vinke is weer oral te sien. Oor die veld slaan daar hier en daar groen kolle uit soos die nuwe lente groei voort beur om te wys.
Maar dis droog. Die veld is droog en die wind waai. Mag hierdie wind tog vir ons so paar druppels vroeë lente reën bring, al is dit net om die winter stof te laat lê.
Lente is lekkerte.
Stunning Aletta