Dit is alweer sulke tyd. Die inwoners het vroeg al by die kantoordeur kom vra wanneer word die kersbome opgesit. Daar word geskarrel. Stoordeure is oopgegooi en groot trommels oorlopens toe vol van kersversierings is uitgehaal en aangedra na die inwoners se huise toe.
Lere word aangedra. Liggies word buite onder die dak opgehang. Pakkies word opgemaak en getooi met linte. Pakke kersklappers word aangedra. Een na die ander word die kersbome uitgehaal, reggeruk, afgestof en opgeslaan. Kersversierings word nou een vir een afgestof, skoongemaak en blink gevryf sodat hulle op hulle mooiste kan vertoon in die bome. Liggies word versigtig getooi en in die kragproppe gedruk. Laastens word die engele bo-op die bome gesit en sie daar! ‘n pragtige kersboom versier die huis. So kry elke huis sy eie kersboom. Die res van die huise kry ook versierings, mens stop mos nie by die kersboom nie.
‘n Kat kom om die hoek gesluip na een van die bome en steel een van die blink rooi balletjies en begin die te jaag die gang af. Dit veroorsaak groot pret en almal lag en gesels en is opgewonde oor die voorloop van die feesseisoen.
In die kombuise word daar konfyt gekook van die al die perskes wat amper die bome se takke gebreek het. ‘n Spyskaart word uitgewerk en voorraad word bestel en aangekoop. Die hoenderpastye word gemaak en gevries om net voor Kersdag uitgehaal te word om gebak te word vir die kersmaal. Daar word beplan oor hoe die tafels moet lyk en servette en tafelversierings word aangekoop. Jingle Bells en White Christmas word gehoor in die gange en al ons inwoners weet, iets heerliks lê voor en hulle kan nie wag nie. Hierdie jaar (soos elke jaar op Resthill) gaan kersfees groot wees.