Elke jaar doen ons in-diens opleiding met ons werknemers en tot dusver was dit merendeels opleiding met ons versorgers met betrekking tot dementia.
Hierdie jaar lyk die program egter heel anders. In die eerste plek het ons ons werknemers gevra waarin sou hulle opleiding wou ontvang. Hulle het ons van wonderlike terugvoering voorsien en ons poog hierdie jaar om hulle opleiding so te doen om meer in hulle behoeftes te voorsien.
Ons kokke het onder andere gevra dat hulle meer opleiding verlang in gebak en fyner “cuisine”. Alet het dadelik weggespring en begin om heerlike resepte bymekaar te maak en sover het hulle geleer om botterbroodjies (Scones) te bak wat tot teen die dak rys. Hulle het ook geleer om eiervrug voor te berei (ons het hope daarvan in ons eie groente tuin) in ‘n dis wat vleis kan vervang maar so smaaklik en geurig, jy lek jou vingers af.
Ons het met ‘n diensverskaffer gereel om van ons manne op te lei as vuurvegters en van die dames word opgelei in noodhulp.
Ons tuiniers sal die jaar opgelei word in die snoei van vrugtebome en die pragtige roosbome. Hulle ontvang reeds opleiding van watter groente watter tyd van die jaar geplant moet word en wanneer dit ideaal is om te oes. Hulle is reeds baie suksesvol met die groentetuine maar kan ons beslis meer van ons gronde gebruik om ons eie groente te verbou. Dit gaan beslis die jaar gebeur.
Ons ondersteuningspersoneel word opgelei in die belangrikheid van diep en higieniese skoonmaak en hoe om dit behoorlik te doen. Hulle sal ook opleiding ontvang om naaldwerk te doen vir die herstel van kledingstukke, soos om some in te sit en knope aan te werk soos en wanneer nodig.
Al ons dames sal vroeg in April self-verdedigingsklasse bywoon. Dit was ‘n versoek van hulle af omdat hulle bedreig voel in hulle omgewings en nie weet hoe om hulself te laat geld nie. Ons sien eintlik almal uit na hierdie opleiding. Dalk sal dit ‘n goeie ding wees om die manne ook hierby in te sluit.
Ons versorgers sal natuurlik ook weer opleiding ontvang onder die hand van Lorraine, Schirlinger, ‘n ou hand in dementia versorging en die beste in Suid Afrika. Haar opleiding verlede jaar het ons dames ‘n totale nuwe uitkyk na versorging gegee en ons sien die positiewe resultate van haar opleiding elke dag.
Van ons personeel het gevra vir rekenaaropleiding. Ons was vuur en vlam om dit vir hulle moontlik te maak maar ongelukkig het die dame wat die opleiding sou aanbied op die laaste oomblik ‘n ander pos aanvaar en die opleiding het in die slag gebly. Ons kyk steeds daarna aangesien ons graag Resthill se verslaggewing totaal elektronies wil laat gebeur en dit vir ons belangrik is dat ons mense die regte opleiding kry.
Ons personeel doen die in-diens opleiding in hulle eie tyd en verlede jaar was die bywoning daarvan uitstekend. Ons het in samewerking met Lorraine Schirlinger, ‘n baie oulike handboek saamgestel en dit laat druk. ‘n Handboekie is aan elke personeellid oorhandig vir toekomstige verwysing en sal dit weer en weer gebruik word vir opleiding. Ons oorweeg nou om soorgelyke handboekie bymekaar te sit vir ons families ten einde meer inligting beskikbaar te hê oor hulle geliefdes se siekte.
Ons is opgewonde oor wat 2023 vir Resthill inhou. Met ons wenspan kan alles net voorspoedig wees.

Brilliant en so nodig dat personeel erken word vir hul rol by Resthill. Dit doen ons goed.